Genesis 38:18-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. “Nou wat wil jy hê?” vra hy.Sy antwoord: “Ek wil jou seël, jou armband en die stok in jou hand hê.” Juda gee toe die goed wat sy gevra het. Hy het met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19. Daarna het sy huis toe gegaan, haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek.

20. Juda het later sy vriend Gira, die Adullamiet, gevra om die bokkie na haar toe te neem en die pand by haar terug te kry. Hy kon haar egter nie opspoor nie.

21. Hy vra toe vir die mense van die plek: “Waar is die tempelprostituut wat hier langs die pad by die poort van Enajim gesit het?”“Ons het nog nooit ’n tempelprostituut hier gehad nie,” het hulle geantwoord.

22. Gira het toe maar teruggegaan na Juda toe en gesê: “Ek kon haar nêrens kry nie en die mense van die dorp sê daar is nie ’n prostituut daar nie.”

23. “Sy moet dan maar die goed hou!” sê hy. “Ons het ons bes probeer om die bokkie vir haar te gee. Ons sal van onsself ’n spektakel maak as ons weer na die dorpie toe teruggaan.”

24. Omtrent drie maande later hoor Juda dat Tamar, sy skoondogter, haar vir ’n prostituut uitgegee het en swanger geword het. “Bring haar uit en verbrand haar!” het Juda uitgeroep.

Genesis 38