Genesis 34:21-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. “Daardie mense is goedgesind teenoor ons,” het hulle gesê. “Kom ons laat hulle toe om hier by ons te woon en met ons handel te dryf, want die land is groot genoeg om hulle ook te dra. Dan kan ons met hulle ondertrou.

22. Hulle sal dit egter net op een voorwaarde oorweeg om hier te bly. Dit is dat elke manlike persoon onder ons besny word.

23. As ons dit doen, sal al hulle vee, trekdiere en besittings ons s’n word. Hulle sal dan saam met ons hier kan woon.”

24. Al die mans in die poort van die dorp het na Gamor en Sigem geluister en ingestem en hulle almal laat besny.

25. Drie dae later, toe die mans nog baie pyn gehad het, het Dina se broers, Simeon en Levi, hulle swaarde gevat en sonder weerstand die dorp binnegegaan. Hulle het al wat ’n man is, doodgemaak,

26. selfs ook Gamor en Sigem. Hulle het Dina uit Sigem se huis gaan wegneem en met haar na hulle kamp toe teruggekeer.

27. Daarna het Jakob se ander seuns die dorp geplunder omdat hulle suster daar verkrag is.

28. Hulle het al die kleinvee, beeste, donkies en alles wat hulle binne en buite die stad in die hande kon kry, gevat.

29. Hulle het ook al die vroue en kinders met alles wat in die huise was, geroof.

30. Daarna sê Jakob vir Levi en Simeon: “Julle het my ’n slegte naam gegee onder die Kanaäniete en Feresiete, die mense van hierdie land. Ons is maar min mense. Hulle kan saam teen ons optrek en ons almal uitroei!”

31. “Maar hy het dan ons suster soos ’n prostituut behandel!” het hulle teruggekap.

Genesis 34