Genesis 24:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se huis en my geboorteland geroep het, het met ’n eed belowe om hierdie land aan my nageslag te gee. Hy sal sy engel voor jou uitstuur en sorg dat jy daar ’n meisie kry wat met my seun sal trou.

8. Maar as sy onwillig is om saam met jou terug te kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie. Maar jy mag my seun nie daarheen terugneem nie.”

9. Die slaaf het toe ’n eed afgelê dat hy Abraham se voorskrifte sou uitvoer.

10. Hy het tien kamele gelaai met allerlei kosbare geskenke van Abraham. Daarna het hy vertrek na Mesopotamië, na die dorp waar Abraham se broer Nahor gewoon het.

11. Daar aangekom, laat hy die kamele kniel by ’n fontein net buite die dorp. Dit was laatnamiddag en tyd dat die vroue uitkom om water te kom haal.

12. “O Here, God van my meester Abraham,” het hy gebid. “Laat ek suksesvol wees, en bewys u getrouheid aan my meester Abraham.

13. Kyk, hier staan ek by hierdie fontein en die meisies is besig om hierheen te kom om water te kry.

Genesis 24