Genesis 21:18-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ’n groot nasie maak.”

19. Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ’n put met water. Sy het haar watersak vol gemaak en vir die seun water gegee om te drink.

20. God was met die seun. Hy het in die Paranwoestyn grootgeword en ’n knap boogskutter geword.

21. Sy ma het gesorg dat hy later met ’n Egiptiese meisie trou.

22. Omstreeks hierdie tyd kom Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, op besoek by Abraham. “Dit is baie duidelik dat God jou help in alles wat jy doen,” sê Abimelek.

23. “Belowe my met ’n eed in God se Naam dat jy nie oneerlik teenoor my sal optree nie, ook nie teenoor my kinders of my kleinkinders nie. Ek was lojaal aan jou; belowe nou dat jy ook aan my en hierdie land lojaal sal wees solank jy lewe.”

24. Abraham antwoord hom: “Nou goed, ek belowe!”

25. Hy het egter by Abimelek beswaar gemaak oor ’n waterput wat Abimelek se slawe met geweld van hom afgeneem het.

26. “Dis die eerste keer dat ek hiervan hoor,” sê Abimelek. “Ek het nie die vaagste benul wie dit gedoen het nie. Hoekom het jy my nie al eerder gesê nie?”

27. Abraham gee toe kleinvee en beeste vir Abimelek en hulle sluit ’n ooreenkoms met mekaar.

28. Maar toe Abraham nog sewe ooilammers eenkant sit,

29. vra Abimelek: “Wat doen jy nou met die ooilammers?”

30. Abraham antwoord: “Neem dit. Dis ’n sigbare teken dat jy erken dat ek hierdie put gegrawe het.”

Genesis 21