Genesis 18:16-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.

17. “Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die Here.

18. “Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word.

19. Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om aan die Here gehoorsaam te wees deur te doen wat goed en reg is sodat Ek vir hom alles kan doen wat Ek hom belowe het.”

20. Toe sê die Here vir Abraham: “Die boosheid van die mense van Sodom en Gomorra het rugbaar geword, want hulle doen alles wat sondig is.

21. Ek wil afgaan om te gaan kyk of dit waar is of nie. Dan sal Ek vir seker weet.”

22. Terwyl twee van die mans toe verder gaan in die rigting van Sodom, het die Here nog ’n rukkie by Abraham bly staan.

23. Abraham het nadergekom en gevra: “Sal U die onskuldiges saam met die skuldiges uitroei?

Genesis 18