Genesis 17:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “Jou deel van die ooreenkoms,” sê God vir Abraham, “is om die voorwaardes van die verbond na te kom. Dit geld vir jou en al die geslagte ná jou.

10. Dít is my verbond wat jy en jou nageslag moet onderhou: Elke manlike persoon onder julle moet besny word.

11. Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is die teken van die verbond tussen My en julle.

12. Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word.

13. Almal moet besny word. So sal julle aan julle liggame die teken dra van my ewigdurende verbond.

14. Elkeen wat nie besny is nie, sal afgesny word van God se belofte omdat hy die verbond verbreek het.”

15. Verder sê God: “Jou vrou Sarai sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal haar naam Sara wees.

16. Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun in die wêreld bring. Ek sal haar beslis ryklik seën. Sy sal moeder word van baie nasies en uit haar nageslag sal daar konings voortkom.”

17. Toe het Abraham tot op die grond neergebuig en by homself gelag. “Hoe kan ek op 100 jaar pa word?” het hy gewonder. “Daarby is Sara nou 90 jaar. Hoe kan sy geboorte gee?”

Genesis 17