1. Abram het toe met sy vrou, al hulle besittings en Lot, Egipte verlaat en noordwaarts na die Negev getrek.
2. Abram was baie ryk aan lewende hawe, silwer en goud.
3. Hulle het van plek tot plek deur die Negev getrek op pad na Bet-El toe, na die plek tussen Bet-El en Ai, waar hy voorheen kamp opgeslaan het.
4. Dis die plek waar Abram destyds die altaar gebou het. Hier het hy weer die Here aanbid.
5. Lot, wat saam met Abram was, het ook baie kleinvee, grootvee en tente besit.
6. Maar Abram en Lot kon nie meer bymekaar woon nie, want die weiveld was te klein vir hulle groot troppe vee. Hulle kon dus nie meer saam boer nie.
7. Boonop het die Kanaäniete en die Feresiete ook destyds nog in die land gewoon. Toe ontstaan daar ’n rusie tussen Abram en Lot se veewagters.
8. Abram het die saak met Lot bespreek. “Hierdie getwis tussen ons veewagters moet einde kry,” het hy gesê. “Ons is tog naby familie!
9. Kies jy enige deel van die land, dan gaan ons uitmekaar. As jy anderkant toe wil gaan, sal ek hier bly. As jy verkies om hier te bly, sal ek elders heen trek.”