Esra 9:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Nadat hierdie dinge afgehandel was, het die leiers na my toe gekom en gesê: “Baie van die Israeliete, selfs ook van die priesters en die Leviete, het hulle nie van die ander volke in die land afgesonder nie. Hulle het van die afstootlike praktyke van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en die Amoriete begin beoefen.

2. Van die mans en hulle seuns het met van die vroue van die land getrou. Deur dit te doen, het hulle die heilige volk van God met die bevolking van die land vermeng. Om die kroon te span, was die amptenare en die leiers die eerstes om dit te doen.”

3. Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur en my hare uit my kop en baard getrek. Ek het geskok bly sit.

4. Almal wat bang was vir die woorde van die God van Israel, het oor die ontrouheid van die ballinge by my bymekaargekom. Ek het geskok daar bly sit tot die tyd van die aandoffer.

Esra 9