10. Dit het gebeur omdat Esra besluit het om die gebooie van die Here te bestudeer en toe te pas. Hy wou die reëls en regulasies vir die mense van Israel leer.
11. Hier volg ’n afskrif van koning Artasasta se brief aan Esra. Esra was ’n priester en ’n skrifkenner wat die voorskrifte en bepalings van die Here vir Israel uitgelê het:
12. “Van: Artasasta, die koning van die konings. Aan: Die priester Esra, die kenner van die wet van die God van die hemel. Groete.
13. “Ek verklaar dat enige van die mense van Israel wat in my ryk is, priesters en Leviete ingesluit, mag kies om saam met jou na Jerusalem toe terug te keer.
14. Ek en my raad van sewe gee jou opdrag om ondersoek in te stel na omstandighede in Juda en Jerusalem. Doen dit aan die hand van die voorskrifte van jou God wat in jou besit is.
15. Ek as koning en my raadgewers gee jou ook opdrag om silwer en goud saam met jou te vat. Ons gee dit as ’n vrywillige bydrae aan die God van Israel wat in Jerusalem woon.
16. “Neem ook al die silwer en goud wat jy in die provinsie Babilonië in die hande kan kry. Verder ook die vrywillige offers wat die mense van die land en die priesters vir die tempel van hulle God in Jerusalem gee.
17. Gebruik hierdie bydraes uitsluitlik om bulle, ramme, lammers en die nodige graanoffers en drankoffers te koop. Dit is vir alles wat julle op die altaar van die tempel van God in Jerusalem gaan offer.
18. Die goud en die silwer wat oorbly, mag jy en jou mense gebruik soos julle goeddink volgens die wil van julle God.
19. Maar die voorwerpe wat ons aan jou gegee het vir diens in die tempel van jou God, moet jy net so vir die God van Jerusalem gaan gee.