Esra 6:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Darius het toe opdrag gegee dat ’n ondersoek in die argiewe in Babel gedoen moes word. Die dokumente is daar gehou.

2. Die boekrol is egter in Agmeta, ’n vestingstad in die provinsie Medië, gevind. Dit het só gelees:

3. “In die eerste jaar van koning Kores se regering is ’n dekreet uitgevaardig oor die tempel van God in Jerusalem. Hulle moet die tempel op dieselfde fondasie herbou as ’n plek waar hulle altyd die offers kan bring. Die gebou moet 30 meter hoog en 30 meter breed wees.

4. Op elke drie lae van die gekapte steenblokke moet hulle ’n laag hout plaas. Die koninklike skatkis sal alle kostes vir die bouwerk dra.

5. Al die goue en silwer voorwerpe wat Nebukadnesar uit die tempel van God in Jerusalem gevat het en na Babel toe gebring is, moet teruggegee word. Dit sal soos vroeër weer in die tempel van God in Jerusalem gesit word.”

6. Koning Darius het die volgende boodskap gestuur: “Aan die goewerneur Tattenai van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare van die provinsie wes van die Eufraat: Bly weg daarvandaan!

7. Moenie in die pad staan van die bouwerk aan die tempel van God nie. Laat die goewerneur van Juda en die Judese leiers toe om die tempel van God op die oorspronklike plek te herbou.

Esra 6