1. Toe het die Here baie hard geroep waar ek kon hoor: “Laat kom die mense wat die stad moet straf! Sê vir hulle hulle moet wapens saambring!”
2. Toe kom daar ses mans van die boonste hek af aan die noordekant, elkeen met ’n wapen in die hand waarmee hulle kan doodmaak. Een van hulle het klere van linne aangehad met ’n skrywer se gereedskap aan sy sy. Hulle het almal in die tempel se voorhof ingegaan en daar langs die bronsaltaar gaan staan.
3. Toe het die heerlikheid van die God van Israel opgestyg van tussen die gerubs, waar dit gebly het, en beweeg na die drumpel van die tempel. Die Here het geroep na die man met linneklere aan en skrywersgereedskap by hom.
4. Hy sê toe vir hom: “Gaan stap deur die strate van Jerusalem en sit ’n merk op die voorkop van elkeen wat huil en sug oor al die afskuwelike sondes wat hulle rondom hulle sien.”