11. “Ek maak ’n begraafplaas vir Gog in Israel, in Reisigersvallei, oos van die Dooie See. Die begraafplaas sal reisigers se pad versper. Hulle sal die plek Vallei van Gog se menigtes noem.
12. “Die mense van Israel sal sewe maande nodig hê om die land van al die lyke skoon te maak.
13. Elkeen in Israel sal help. Dit gaan ’n wonderlike oorwinning vir Israel wees daardie dag wanneer Ek vereer word, sê die oppermagtige Here.
14. “Aan die einde van sewe maande sal mense aangestel word om die land te deursoek vir lyke en om hulle te begrawe sodat die land skoongemaak kan word.
15. Waar geraamtes gekry word, sal hulle ’n teken oprig sodat die ondernemers dit kan sien en die lyke in die Vallei van Gog se menigtes kan begrawe.
16. (Daar sal selfs ’n stad wees met die naam ‘Menigtes’.) So sal die land uiteindelik skoongemaak word.
17. “Mensekind, roep nou al die voëls en wilde diere, sê die oppermagtige Here. Sê vir hulle: Kom bymekaar vir die groot offerfees! Kom van ver en naby na die berge van Israel, kom eet die vleis en drink die bloed!
18. Eet die vleis van magtige mense en drink die bloed van prinse asof hulle ramme en lammers, bokke en bulle is, almal vetgevoerde diere van Basan!
19. Eet vet vleis tot julle oorversadig is, drink bloed tot julle dronk is. Ek het die offerfees vir julle reggemaak.
20. Eet julle versadig aan perde en ruiters, magtige mense en soldate, sê die oppermagtige Here.
21. “So sal Ek myself onder die nasies vereer. En hulle sal sien hoe Ek hulle straf as Ek my hand op hulle lê.
22. Van daardie dag af sal die mense van Israel besef dat Ek, die Here, hulle God is.