29. Die dag as Ek die land verwoes het oor hulle walglike dade, sal hulle weet dat Ek die Here is.
30. “Mensekind, jou mense praat agter jou rug. Hulle praat oor jou in hulle huise en by hulle deure. Hulle sê: ‘Kom, laat ons gekskeer! Kom ons gaan hoor wat die profeet ons vertel wat die Here sê!’
31. Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan.
32. Jy vermaak hulle soos iemand wat liefdesliedjies met ’n mooi stem sing of goeie musiek maak. Hulle hoor wat jy sê, maar doen dit nie!
33. Maar as al hierdie verskriklike dinge gebeur – en dit gaan gebeur! – sal hulle weet dat daar ’n profeet tussen hulle was.”