Esegiël 23:12-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Sy het na die Assiriërs gesmag, die aantreklike jong mans op trotse perde, goewerneurs en bevelvoerders in mooi klere. Almal van hulle was begeerlik.

13. Ek het gesien hoe sy haar verontreinig het, hoe albei sussies dieselfde doen.

14. “Maar sy het nog verder gegaan. Sy het verlief geraak op prentjies wat teen ’n muur geverf was, prentjies van Babiloniese offisiere, met rooi verf geverf.

15. Hulle het mooi gordels gedra, met kopdoeke om hulle koppe. Hulle het nes die offisiere gelyk wat uit Babilonië kom.

16. Toe sy hulle sien, het sy daarna gesmag om haarself vir hulle te gee. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur.

17. Hulle het gekom en by haar kom slaap. Hulle het haar met hulle onsedelikheid kom besoedel. Later het sy ’n weersin in hulle gekry en haar verhouding met hulle verbreek.

18. “Daarom het Ek ’n weersin in Oholiba gekry, net soos in haar suster. Sy het mos haar lyf verkoop en haarself vir enigeen uitgetrek.

19. Maar sy het nie omgegee nie. Sy het net nog meer onsedelik geraak, nes in die dae toe sy nog jonk was, ’n prostituut in Egipte.

20. Daar het sy agter haar minnaars aangeloop, wat so driftig soos donkie- en perdehingste was.

21. Ja, jy het gesmag na jou afskuwelike gedrag in Egipte toe jy jonk was, toe jy toegelaat het dat jy betas en geliefkoos word.”

22. “Daarom, Oholiba, so sê die oppermagtige Here: Ek stuur jou minnaars in wie jy ’n weersin gekry het as vyande teen jou. Hulle sal van alle kante af teen jou kom.

23. Die Babiloniërs sal saam met al die Galdeërs kom vanaf Pekod en Soa en Koa. En die Assiriërs sal saam met hulle kom – aantreklike jong goewerneurs en bevelvoerders, offisiere en belangrike mense, almal te perd.

24. Hulle sal vanuit die noorde teen jou kom met strydwaens, waens en ’n groot leërmag. Hulle sal aan elke kant teen jou stelling inneem en jou omring met soldate wat gereedstaan vir die geveg. Ek sal jou aan hulle oorgee, en hulle sal met jou maak net wat hulle wil.

25. Ek stort my wraak uit oor jou. Hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en ore afsny. Enigeen wat dit oorleef, sal in die geveg doodgemaak word. Hulle sal jou kinders wegvoer en alles wat agterbly, verbrand.

26. Jou klere en juwele sal hulle vir hulleself vat.

27. So maak Ek ’n einde aan jou afstootlike optrede en prostitusie wat jy van Egipte af saamgebring het. Jy sal nooit weer na jou minnaars soek nie, en nie meer aan Egipte dink nie.

Esegiël 23