38. Dan straf Ek jou soos ’n vrou gestraf word wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal met jou bloed betaal as Ek my woede en jaloesie op jou wreek.
39. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars, daardie baie nasies. Hulle sal die heiligdomme vir jou afgode en jou altare omgooi. Hulle sal jou uittrek en jou mooi juwele afvat, en jou kaal, sonder klere agterlaat.
40. Hulle sal saamkom en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde in stukke kap.
41. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie vroue straf. Ek sal sorg dat jy nie weer ’n prostituut kan word nie en nie meer jou minnaars kan betaal nie.
42. “Eers wanneer Ek my wraak teen jou laat uitwoed het, sal my woede afgekoel wees. Dan sal Ek kalm word en nie meer vir jou kwaad wees nie.
43. Maar eers gaan Ek jou ten volle laat boet vir jou sondes, want jy het jou jongdae vergeet toe jy hierdie dinge gedoen het. So sê die oppermagtige Here. Want by al jou walglike sondes het jy ook hierdie afstootlike dinge gedoen.
44. Mense wat spreekwoorde maak, sal van jou sê: ‘Die dogter is nes die ma.’
45. Jou ma het ook haar eie man en kinders verag, net soos jy. En jy is net soos jou susters, want hulle het hulle mans en kinders ook verag. Ja, jou ma was mos ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet.
46. “Jou ouer suster is Samaria wat saam met haar dogters noord van jou geleef het. En jou jonger suster is Sodom wat saam met haar dogters suid van jou geleef het.
47. Jy het nie sommer maar net gesondig soos hulle nie. Nee, dit was nie genoeg vir jou nie. Binne ’n kort rukkie het jy hulle ver oortref!
48. So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Sodom en haar dogters het nooit gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie.
49. Sodom en haar dogters se sonde was dat hulle trots was en te veel kos gehad het en glad nie vir ander omgegee het nie. Hulle het nie arm en behoeftige mense gehelp nie.