Eksodus 7:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Moses en Aäron het presies net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het.

7. Toe hulle met die farao gaan praat het, was Moses 80 jaar oud en Aäron 83.

8. Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

9. “Die farao sal van julle verwag dat julle vir hom ’n wonderteken moet doen. Jy moet dan vir Aäron sê: ‘Gooi jou herderstok voor die farao op die grond!’ Dit sal dan in ’n slang verander.”

10. Moses en Aäron het met die farao gaan praat. Hulle het net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Aäron het sy herderstok voor die farao en sy hofamptenare neergegooi en dit het in ’n slang verander.

11. Die farao het toe sy wyse manne en towenaars nadergeroep. Hulle het met hulle kunsies presies dieselfde ding gedoen.

12. Toe die manne hulle stokke neergooi, het dit ook in slange verander. Maar Aäron se slang het hulle slange ingesluk.

13. Die farao het egter hardkoppig gebly. Hy wou nog steeds nie na hulle luister nie. Dit was presies net soos die Here gesê het dit sou gebeur.

14. Die Here sê toe vir Moses: “Die farao bly nog steeds eiesinnig en hy weier steeds dat die volk kan gaan.

15. Môre-oggend, wanneer die farao afgaan na die rivier toe, moet jy met hom gaan praat. Gaan staan langs die rivier en wag vir hom daar. Vat die herderstok wat in ’n slang verander het saam met jou.

16. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na jou toe gestuur om vir jou te sê: Laat my volk gaan om My in die woestyn te aanbid. Tot nou toe het jy geweier om na My te luister.

17. Daarom stuur die Here nou vir jou ’n boodskap waaraan jy kan weet wie Ek die Here is. Ek gaan met hierdie stok in my hand op die rivier se water slaan en dit gaan alles in bloed verander.

18. Die vis in die rivier gaan vrek en dit sal begin sleg ruik. Die Egiptenaars sal nie die water van die Nylrivier kan drink nie.’”

Eksodus 7