Eksodus 5:8-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hulle moet egter net soveel stene maak soos altyd. Julle mag nie die hoeveelhede verminder nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle kom kerm om vir hulle God te gaan offer.

9. Maak die werk nog swaarder vir die mans. Laat hulle sweet sodat hulle nie sulke slimstories kan uitdink nie.”

10. Die slawemeesters en hulle opsigters het die mense ingelig: “Die farao het ons opdrag gegee om op te hou om vir julle strooi te voorsien.

11. Julle moet van nou af self strooi gaan bymekaarmaak waar julle dit ook al kry. Julle moet egter net soveel stene maak soos altyd.”

12. Hulle het toe oral in Egipte stoppels begin versamel vir die stene.

13. Die slawemeesters was hardhandig met hulle en het hulle beveel: “Julle moet net soveel stene lewer as vroeër toe die strooi vir julle voorsien is!”

14. Hulle het die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gevra: “Hoekom het julle nie gister en vandag julle volle kwota stene gelewer nie?”

15. Die Israelitiese opsigters het toe met die farao gaan praat en hom gesoebat: “Moenie ons so behandel nie.

16. Ons kry nie meer strooi nie, maar ons moet nog steeds net soveel stene maak! Ons word geslaan terwyl die fout by u mense lê.”

17. Die farao het hulle geantwoord: “Julle het lui en laks geword. Dis hoekom julle kom vra om vir die Here te gaan offer.

18. Loop! Gaan terug na julle werk toe! Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle die volle kwota stene lewer.”

19. Omdat hulle steeds elke dag dieselfde hoeveelheid stene soos vantevore moes maak, het die Israelitiese opsigters gesien dat daar groot moeilikheid kom.

Eksodus 5