Eksodus 40:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Sprinkel ook van die salfolie oor die brandofferaltaar en al sy bybehore om dit te heilig. Die altaar sal dan ook aan My gewy wees.

11. Salf ook die koperbad op sy voetstuk om dit aan My te wy.

12. “Laat Aäron en sy seuns dan na die ingang van die tabernakel toe kom. Was hulle daar met water.

13. Trek vir Aäron sy spesiale klere aan en salf hom. Wy hom aan My sodat hy My as priester kan dien.

14. Laat sy seuns ook naderkom. Trek ook hulle klere vir hulle aan.

15. Salf hulle ook soos hulle pa en wy hulle aan My as priesters. Met hierdie salwing word Aäron en sy nageslag priesters vir altyd.”

16. Moses het toe presies gemaak soos die Here vir hom gesê het.

17. Die tent is opgerig op die eerste dag van die nuwe jaar.

18. Moses het eers die voetstukke op hulle plek gesit. Daarna het hy die houtpanele daarop neergesit en hulle met die dwarslatte aan mekaar vasgesluit.

19. Daarna het hy die dak oor die tent getrek en die boonste laag daar booor getrek, soos die Here beveel het.

20. Hy het die kliptafels met die getuienis binne-in die ark gesit, die drapale deurgesteek en die deksel bo-op die ark gesit.

21. Toe het hy die ark in die tabernakel neergesit. Hy het die gordyne voor die ark gehang om dit af te skort. Dit was presies soos die Here vir hom gesê het.

22. Daarna het hy die tafel in die tabernakel teen die noordelike muur neergesit net buite die afskorting.

Eksodus 40