Eksodus 39:8-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die sak wat voor die bors kom, is op dieselfde manier as die skouerkleed gemaak. Dit was van fyn linne waarop gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is.

9. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm van 25 sentimeter lank en breed.

10. Hulle het hierop vier rye met drie edelstene elk vasgemaak. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag.

11. In die tweede ry was daar turkoois, saffier en jaspis.

12. In die derde ry was daar hiasint, agaat en ametis.

13. Die laaste ry het chrisoliet, oniks en opaal gehad. Elkeen was in goud gemonteer.

14. In elke steen was ’n naam van die twaalf stamme van Israel fyn gegraveer.

15. Om die borssak aan die skouerkleed vas te maak, het hulle goue kettinkies gemaak wat soos tou gevleg is.

16. Hulle het ook twee ringetjies gemaak wat hulle aan die bokant van die borssak vasgewerk het.

17. Die kettinkies is deur die ringetjies gesteek.

18. Die punte van die kettinkies is aan die bande vasgewerk wat oor die skouers kom.

19. Twee ander ringetjies is aan die onderkant van die borssak vasgewerk. Hulle was aan die agterkant vasgewerk waar dit oor die skouerkleed kom.

20. Twee ringetjies is ook vasgewerk aan die skouerkleed waar die gordel kom.

21. Hierdie onderste ringetjies is aan mekaar vasgemaak met blou toutjies om te keer dat die borssak afsak. Alles is presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

22. Die mantel wat agter die skouerkleed afgehang het, is uit een stuk blou materiaal gemaak.

23. In die middel was daar ’n opening waardeur Aäron sy kop kon steek. Dit het ’n omboorsel gehad om te keer dat dit skeur.

24. Al op die kant van die mantel het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk wat uit garing gemaak is.

Eksodus 39