Eksodus 30:13-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Elkeen wat getel word, moet ses gram silwer vir die Here betaal. Dit is volgens die eenheid wat by die hei-ligdom gebruik word.

14. Elkeen bo twintig jaar oud moet hierdie afkoopsom vir die Here betaal.

15. Wanneer hulle hierdie afkoopsom vir hulleself betaal, moet dié wat ryk is nie meer gee en dié wat arm is nie minder betaal nie.

16. Gebruik hierdie geld vir die diens by die tabernakel. Dit sal die Israeliete daaraan herinner dat die Here hulle lewens losgekoop het.”

17. Die Here het vir Moses gesê:

18. “Maak ’n koperhouer op ’n kopervoetstuk om in te was. Sit dit tussen die tabernakel en die altaar en gooi dit vol water.

19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was

20. wanneer hulle in die tabernakel ingaan om voor die Here te verskyn of om ’n offer te bring. Hulle moet hulle was voordat hulle diens verrig, anders sal hulle sterf.

21. Dis ’n vaste reël vir Aäron en sy opvolgers en moet deur elke geslag nagekom word.”

22. Die Here het verder vir Moses gesê:

23. “Kry die volgende bymekaar: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes,

24. 500 dele kassie en vier liter olyfolie.

25. Meng dit met mekaar en maak daarvan heilige salfolie.

Eksodus 30