Eksodus 25:28-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Maak die drapaal van akasiahout en trek dit oor met goud.

29. Jy moet ook vir die tafel skottels, panne, kanne en houers van goud maak sodat dit vir die drankoffers gebruik kan word.

30. Sorg dat daar altyd offerbrood op die tafel is.”

31. “Maak ’n kandelaar uit suiwer goud. Dit moet ’n eenheid vorm met ’n voetstuk, steel, blomkelke, knoppe en blare – alles uit bladgoud.

32. Dit moet ses arms hê. Drie arms moet aan elke kant van die stam uitkom.

33. Aan elke arm moet daar ’n kelkie wees wat lyk soos ’n amandelbloeisel, kompleet met knoppe en blare.

34. Die steel in die middel moet vier amandelbloeisels hê met knoppe en blare.

35. Waar die arms uit die steel kom, moet elke paar aan die onderkant ’n blomknop hê.

36. Die steel en takke en versierings moet ’n eenheid vorm. Dit moet alles uit bladgoud gemaak word.

37. Maak sewe lampies vir die kandelaar. Sit hulle so daaraan vas dat hulle na die voorkant toe skyn.

38. “Die tangetjie waarmee die pit versorg word en die houers waarin die pit kom, moet ook van suiwer goud wees.

39. Jy sal 34 kilogram suiwer goud nodig hê vir die kandelaar en sy bybehore.

40. “Sorg dat jy alles maak presies volgens die planne wat Ek vir jou op die berg gewys het.”

Eksodus 25