Eksodus 25:18-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Maak twee beelde van gerubs met goud oorgetrek om weerskante bo-op die deksel te staan.

19. Sit hulle só vas dat dit ’n eenheid met die deksel vorm.

20. Die gerubs moet na mekaar kyk. Hulle moet met oopgespreide vlerke op die deksel afkyk.

21. Sit die klippe wat Ek jou sal gee binne-in die ark en die versoendeksel bo-op die ark.

22. Ek sal jou daar ontmoet. Ek sal van tussen die gerubs bo-op die ark met jou praat. Van daar af sal Ek vir jou my opdragte aan die Israeliete gee.”

23. “Jy moet ook ’n tafel uit akasiahout maak. Dit moet ’n meter lank, ’n halwe meter breed en ’n driekwart meter hoog wees.

24. Trek dit met suiwer goud oor. Maak ’n goue rand om reg rondom te gaan.

25. Maak ook ’n lys van sewe sentimeter breed om reg rondom die tafel te gaan en sit daaraan ’n goue rand vas.

26. Maak vir die tafel ringe van goud en sit dit aan die lang kante

27. op die hoeke net onder die lys vas. Die drapaal moet daardeur gesteek word om die tafel daaraan te dra.

28. Maak die drapaal van akasiahout en trek dit oor met goud.

29. Jy moet ook vir die tafel skottels, panne, kanne en houers van goud maak sodat dit vir die drankoffers gebruik kan word.

30. Sorg dat daar altyd offerbrood op die tafel is.”

31. “Maak ’n kandelaar uit suiwer goud. Dit moet ’n eenheid vorm met ’n voetstuk, steel, blomkelke, knoppe en blare – alles uit bladgoud.

32. Dit moet ses arms hê. Drie arms moet aan elke kant van die stam uitkom.

33. Aan elke arm moet daar ’n kelkie wees wat lyk soos ’n amandelbloeisel, kompleet met knoppe en blare.

Eksodus 25