10. “Onthou hierdie opdrag sodat julle die fees elke jaar op die vasgestelde tyd kan hou.
11. Onthou hierdie voorskrifte wanneer die Here julle in die land gebring het waar die Kanaäniete nou woon. Hy het dit lankal reeds aan julle voorouers belowe.
12. Al die oudste seuns en manlike diere wat eerste gebore is, moet dan aan die Here opgedra word.
13. Jy moet die eerste donkie wat gebore word, omruil met ’n skaap wat in sy plek vir die Here gegee word. As julle nie so wil maak nie, moet die donkie se nek gebreek word. Jy is egter verplig om jou seun wat eerste gebore is los te koop.
14. “Wanneer julle seuns vorentoe vir julle vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet julle vir hulle vertel: ‘Die Here het ons met sy groot krag van die slawewerk in Egipte bevry.
15. Die farao het bly weier om ons te laat gaan. Die Here het toe deur die hele Egipte die seuns en die diere wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit is hoekom ons almal wat eerste gebore is vir die Here offer, behalwe die seuns wat ons eerder kan loskoop.’
16. Hierdie fees sal dus soos ’n merk op jou hand en ’n teken op jou voorkop wees. Dit sal julle herinner dat die Here julle met sy groot krag uit Egipte bevry het.”
17. Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan het, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die Here het gesê: “As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.”
18. Daarom het God hulle eerder met die woestynpad in die rigting van die Rietsee laat trek. Hulle het vertrek soos ’n leër wat op mars is.
19. Moses het Josef se oorskot saam met hom gevat. Josef het destyds die Israeliete plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat die dag wanneer God sy woord gestand doen en hulle uit Egipte sal laat teruggaan.
20. Hulle is van Sukkot af weg en het by Etam aan die rand van die woestyn gekom. Hulle het daar kamp opgeslaan.
21. Gedurende die dag het die Here vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolkstapel wat voor hulle uitgegaan het. Gedurende die nag het ’n wolk waarin vuur was vir hulle lig gegee. So kon hulle bly trek of dit nou dag of nag was.
22. Die wolkstapel in die dag en die wolk met vuur in gedurende die nag het nooit voor die volk weggegaan nie.