Efesiërs 5:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is.

18. Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot uitspattige gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak

19. en sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here.

20. Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge.

21. Omdat julle respek het vir Christus, moet julle aan mekaar onderdanig wees.

22. Vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees, soos aan die Here.

23. Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het.

24. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees.

25. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het

Efesiërs 5