Deuteronomium 4:27-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Die Here sal julle verstrooi tussen die nasies en net ’n paar van julle sal oorleef onder die nasies waarheen die Here julle vat.

28. Daar, in ’n ver land, sal julle mensgemaakte afgode van hout en klip aanbid. Dit is gode wat nie eers kan sien of hoor of eet of ruik nie.

29. Daar sal julle weer na die Here julle God begin soek. As julle met hart en siel na Hom soek, sal julle Hom vind.

30. “Wanneer hierdie swaar dinge in die toekoms oor julle kom, sal julle uiteindelik weer na die Here julle God toe terugkom en na Hom luister.

31. Want die Here julle God is genadig. Hy sal julle nie prysgee of verdelg nie. Hy sal ook nie die verbond vergeet wat Hy onder eed met julle voorouers gesluit het nie.”

32. “Ondersoek die hele geskiedenis vanaf die tyd toe God mense op aarde gemaak het tot nou toe. Ondersoek die hemel van die een uiteinde tot die ander. Kyk of iets so magtigs al ooit gebeur het.

33. Het enige nasie soos julle al ooit die stem van God gehoor wat uit ’n vuur praat en dit oorleef?

34. Het enige ander god al ooit ’n nasie vir homself geneem en hulle van ander nasies gered deur rampe, wondertekens, wonders, oorloë, indrukwekkende mag en groot dade wat mense bangmaak? Dit is wat die Here julle God voor julle oë vir julle in Egipte gedoen het.

Deuteronomium 4