2. Moenie iets byvoeg of wegvat van die gebooie wat ek vir julle gee nie. Gehoorsaam net die gebooie van die Here julle God wat ek vir julle gee.
3. Julle het met julle oë gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het. Daar het die Here julle God elkeen uitgeroei wat die god Baäl-Peor aanbid het.
4. Almal van julle wat aan die Here julle God getrou gebly het, lewe vandag nog.
5. “Julle moet hierdie reëls en bepalings gehoorsaam wanneer julle in die land aankom wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem. Die Here my God het hulle aan my gegee en my beveel om dit aan julle deur te gee.
6. As julle die gebooie noukeurig gehoorsaam, sal julle vir die naburige nasies wys dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle van hierdie wette hoor, sal hulle uitroep: ‘Watter ander nasie is so wys en het soveel insig soos hierdie een!’
7. Watter groot nasie se god is so naby aan hulle soos wat die Here julle God naby aan julle is wanneer julle Hom aanroep?
8. Watter groot nasie het reëls en bepalings so regverdig soos hierdie wette wat ek vandag vir julle gee?
9. “Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die Here vir julle gedoen het nie. So lank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel.
10. Vertel hulle veral van die dag toe julle by Sinai in die teenwoordigheid van die Here julle God was. Daar het Hy vir my gesê: ‘Bring die volk bymekaar sodat Ek hulle kan onderrig. Op dié manier sal hulle leer om eerbied vir My te hê so lank as wat hulle lewe. Hulle sal ook my wette aan hulle kinders leer.’
11. Julle het nadergekom en aan die voet van die berg gestaan, terwyl die berg in vlamme gehul was. Die vlamme het die lug in geskiet en die donker wolke het alles stikdonker gemaak.
12. Die Here het met julle vanuit die vuur gepraat. Julle het sy woorde gehoor, maar Hom nie gesien nie; daar was net ’n stem.