Deuteronomium 28:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “Die Here sal jou vyande oorwin wanneer hulle jou aanval. Hulle sal jou vanuit een rigting aanval, maar hulle sal in sewe rigtings wegvlug.

8. Die Here sal jou seën in alles wat jy doen en Hy sal jou graanskure vol maak met graan. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee.

9. “As jy die opdragte van die Here jou God gehoorsaam en doen wat Hy wil hê, sal die Here jou sy heilige volk maak soos Hy beloof het Hy sal doen.

10. Al die nasies van die wêreld sal sien dat die Here jou sy volk gemaak het en hulle sal in vrees en bewing voor julle staan.

11. “Die Here sal ’n oorvloed van goeie dinge vir jou gee in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het: baie kinders, talle diere en goeie oeste.

12. Die Here sal uit sy ryk voorraadskuur, die hemel, dit op die regte tyd laat reën om al die werk wat jy doen, te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal nooit nodig hê om van hulle te leen nie.

13. As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie. Jy sal altyd die leiding neem.

14. Moenie links of regs afwyk van enige van hierdie opdragte wat ek jou vandag gee deur ander gode na te volg en hulle te aanbid nie.”

15. “As jy weier om na die Here jou God te luister en nie gehoorsaam is aan al die opdragte en voorskrifte wat ek vandag vir jou gee nie, sal al die volgende vervloeking oor jou kom en jou oorweldig:

16. “Vervloek is jy in jou stede en vervloek is jy in die oop veld.

17. Vervloek is jy met leë mandjies sonder enige vrugte en met knieskottels sonder brood.

18. Vervloek is jy met min kindersen kaal landerye. Vervloek is jy met onvrugbare beeste en kleinvee.

19. Vervloek is jy waar jy ook al is, of jy nou kom of gaan.

20. “Die Here self sal vervloeking, verwarring en straf bring oor alles wat jy doen, totdat jy uiteindelik heeltemal vernietig is oor al die slegte dinge wat jy gedoen het en omdat jy Hom verlaat het.

Deuteronomium 28