Deuteronomium 21:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Wanneer iemand in ’n veld vermoor aangetref word in die land wat die Here jou God vir jou gee, en jy weet nie wie die moord gepleeg het nie,

2. moet jou leiers en regters bepaal watter dorp is die naaste aan die liggaam.

3. Die leiers van daardie dorp moet dan ’n jong koei vat wat nog nooit in ’n juk getrek het nie.

4. Hulle moet die koei na ’n vallei vat waardeur daar ’n spruit loop en wat nog nooit geploeg of beplant is nie. Daar in die vallei moet hulle die koei se nek breek.

5. Die Levitiese priesters moet ook daarheen gaan. Die Here jou God het hulle gekies om in sy teenwoordigheid diens te doen en om seën aan te kondig in die Naam van die Here. Hulle moet oor alle verskille en strawwe besluit.

6. “Die leiers van die dorp naaste aan die lyk moet hulle hande was bo-oor die jong koei wie se nek gebreek is.

7. Dan moet hulle sê: ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie.

8. O Here, vergewe u volk Israel wat U verlos het. Moet tog nie u volk Israel aanspreeklik hou vir die moord op ’n onskuldige man nie.’ Dan sal hulle vry wees van skuld vir die persoon se dood.

9. “Deur hierdie instruksies na te kom en te doen wat reg is in die oë van die Here, sal jy die gemeenskap reinig van die skuld van moord.”

10. “Dit kan gebeur dat jy gaan oorlog maak teen jou vyande, en die Here jou God gee hulle oor in jou hand en jy neem van hulle gevange.

Deuteronomium 21