Deuteronomium 18:5-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Die Here jou God het die stam van Levi uit al jou stamme gekies om vir altyd diens te doen in die Naam van die Here.

6. “Wanneer ’n Leviet uit die dorp in Israel waar hy as vreemdeling gewoon het, wil verhuis na die plek wat die Here sal kies,

7. mag hy daar in die Naam van die Here sy God diens lewer net soos sy mede-Leviete wat die Here daar dien.

8. Hy het aanspraak op sy deel van die offers bo en behalwe wat hy van sy familie geërf het.”

9. “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee, moet jy nie die afskuwelike gebruike na-aap van die nasies wat daar lewe nie.

10. Daar mag nooit iemand tussen julle wees wat sy seun of dogter as ’n brandoffer verbrand nie. Moenie betrokke raak by waarsêery of goëlery of by die interpretasie van voortekens of towery,

11. of beswerings of iemand wat geeste oproep of iemand wat dooies raadpleeg nie.

12. Enigiemand wat sulke dinge doen, is ’n gruwel vir die Here. Dit is juis omdat ander nasies sulke dinge doen dat die Here jou God hulle voor jou gaan verdryf.

13. Jy moet onberispelik wees voor die Here jou God.

14. Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, raadpleeg goëlaars en waarsêers, maar die Here jou God verbied jou om sulke dinge te doen.”

15. “Die Here jou God gaan vir jou ’n profeet na vore laat kom, iemand uit jou mede-Israeliete, soos ek. Luister na daardie profeet.

16. Dit is wat jy van die Here jou God gevra het toe jy by Sinaiberg bymekaar was: ‘Ons kan nie langer na die stem van die Here jou God luister of na die groot vuur kyk nie, anders gaan ons sterf.’

17. “Die Here het toe vir my gesê: ‘Dit is goed so. Ek sal doen wat hulle vra.

18. Ek sal ’n profeet soos jy onder die mede-Israeliete na vore laat kom. Ek sal die profeet voorsê wat om te sê en hy sal die volk alles vertel wat Ek hom beveel.

Deuteronomium 18