1. Dit was in die eerste regeringsjaar van Ahasveros se seun Darius. Hy was ’n Mediër. Hy het oor die Babiloniërs regeer.
2. Tydens die eerste jaar van sy koningskap het ek, Daniël, die Skrifte van wat die Here vir die profeet Jeremia gesê het, nagegaan oor die tydperk wat Jerusalem vervalle sou lê. Dit sou 70 jaar wees.
3. Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi.
4. Ek het vir die Here my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg.
5. “Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk.
6. Ons het nie na u dienaars, die profete geluister nie. Hulle het namens U met ons konings, ons leiers, ons voorgeslagte en almal wat in die land woon, gepraat.
7. U is reg, Here. Ons staan vandag beskaamd voor U, ons almal wat aan Juda behoort en in Jerusalem woon, ons almal van Israel wat naby en ver is in al die lande waarheen U ons verban het omdat ons aan U ontrou was.
8. Here, ons is skaam omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers teen U gesondig het.
9. “Maar die Here, ons God, ontferm Hom oor ons en vergewe ons, selfs al het ons teen Hom in opstand gekom.
10. “Ons was nie gehoorsaam aan die Here ons God om te lewe volgens die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het deur sy knegte, die profete, nie.
11. Die hele Israel het van u bepalings afgewyk en weggedwaal omdat ons nie na u geluister het toe U ons geroep het nie. “U het nou oor ons die dreigemente en vervloekings laat kom wat in die wet van u dienaar Moses geskryf staan, want ons het sonde teen U gedoen.
12. U het presies met ons en ons leiers laat gebeur wat U ons beloof het. Daar was nog nooit so ’n groot ramp op aarde soos die een wat U oor Jerusalem laat kom het nie.
13. Elke vervloeking wat in Moses se wet staan, het oor ons gekom. Nogtans het ons ons nie voor die Here verootmoedig en gebreek met ons sondes en gesoek na u waarheid nie.
14. Die Here het teëspoed oor ons laat kom. Die Here ons God is reg in alles wat Hy doen, want ons het nie na Hom geluister nie.