7. Ek het gesien hoe hy die ram met geweld tref en sy twee horings afbreek. Die ram was nie teen hom opgewasse nie. Hy het die ram teen die grond geslinger en dit onder sy hoewe vertrap. Daar was niemand om die ram uit die bok se mag te red nie.
8. Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys.
9. Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het.
10. Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap.
11. Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse magte aangedurf. Hy het die gereelde offer wat vir God gebring word tot niet gemaak en sy tempel verwoes.
12. Deur sy verkeerde optrede is die hemelse magte aan hom uitgelewer, die gereelde offer opgehef en die waarheid in die grond vertrap. Hy was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.
13. Ek het in ’n gesprek tussen twee heiliges die een vir die ander hoor vra: “Hoe lank hou die visioen aan, die visioen van die daaglikse offer, die opstand wat verwoes en die heiligdom en hemelse mag wat vertrap word?”
14. Die ander een het geantwoord: “2 300 dae dan sal die heiligdom weer gewy word.”