Daniël 7:18-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.”

19. Ek wou toe duidelikheid hê oor die vierde dier wat soveel anders was as die res. Dit was buitengewoon skrikaanjaend en het met sy ystertande en bronskloue alles verslind en dit wat oorbly onder sy voete vertrap.

20. Ek wou ook weet van die tien horings op sy kop en die klein horinkie waarvoor drie ander horings plek moes maak. Hierdie horing het oë en ’n mond gehad wat gespog het, en het anders as die ander gelyk.

21. Ek het gesien hoe hierdie horing oorlog maak met die heilige mense en hulle oorweldig.

22. Toe het Hy wat ewig lewe gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Die tyd het toe gekom dat die heilige mense die koningskap oorneem.

23. Hy het vir my gesê: “Die vierde dier is ’n vierde mag wat oor die wêreld sal regeer en wat heeltemal anders is as al die ander ryke. Dit sal die hele aarde wegvreet en daarop trap en dit vermorsel.

Daniël 7