Daniël 11:22-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Sterk leërmagte sal voor hom weggevee en vernietig word, selfs ’n leier met wie hy ’n ooreenkoms het.

23. Hy sal deur bedrog ooreenkomste sluit. Met slegs ’n handjievol ondersteuners sal hy sterk word.

24. Hy sal stil-stil in die ryk gebiede van die land kom en iets doen wat sy voorouers en hulle voorouers nooit gedoen het nie: hy sal hierdie gebiede roof en plunder. Hy sal planne beraam teen vestings, maar dit sal net vir ’n tydjie aanhou.

25. “Dan sal hy gereedmaak en met ’n sterk leër teen die koning van die suide optrek. Die koning van die suide sal ook ’n baie groot en sterk weermag teen hom op die been bring. Hy sal egter nie teen hom opgewasse wees nie, want daar is ’n slim plan teen hom beraam.

26. Sy eie mense sal hom doodmaak. Sy manskappe sal oorweldig word en baie van hulle sal omkom.

27. Die twee konings sal vol listige planne om een tafel sit en mekaar bedrieg. Hulle planne sal egter nie slaag nie, want hulle einde is klaar bepaal.

28. “Die koning van die noorde sal met groot rykdom terugkeer na sy land toe. Op pad terug sal hy egter optree teen die mense van God se verbond.

29. “Op die bepaalde tyd sal hy weer terugkom en teen die suide opruk. Dit sal hierdie keer egter nie soos die eerste keer wees nie.

Daniël 11