2 Samuel 7:19-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige Here, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige Here!

20. Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige Here.

21. Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak.

22. “Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie.

23. En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het.

24. U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, Here, het hulle God geword.

25. En nou, Here God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd

26. sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan.

27. “Here, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou!

28. Nou, oppermagtige Here, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe.

29. Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige Here, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”

2 Samuel 7