12. Wanneer jy sterf en by jou voorouers begrawe word, sal Ek een uit jou nageslag, jou eie seun, in jou plek koning maak en Ek sal sy koninkryk vas laat staan.
13. Hy sal tot eer van my Naam ’n huis bou en Ek sal sy troon bevestig vir altyd.
14. Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees. As hy oortree, sal Ek hom bestraf deur mense en menslike middels.
15. Maar my troue liefde sal Ek nie van hom af wegneem soos Ek dit tot jou voordeel van Saul af weggeneem het nie.
16. Jou koningshuis en jou koninkryk sal vir altyd vasstaan en jou troon sal vir altyd voortbestaan.’”
17. Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en hom alles vertel wat die Here gesê het.
18. Toe het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige Here, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het?
19. En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige Here, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige Here!
20. Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige Here.
21. Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak.
22. “Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie.
23. En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het.
24. U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, Here, het hulle God geword.