2 Samuel 3:19-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Abner het ook vertroulik met die leiers van Benjamin gepraat. Daarna het hy na Hebron toe gegaan om vir Dawid vertroulik te sê wat vir Israel en Benjamin aanvaarbaar is.

20. Abner het saam met twintig man in Hebron aangekom, en Dawid het hulle op ’n fees onthaal.

21. Toe sê Abner vir Dawid: “Laat my toe om die hele Israel na u kant toe oor te haal om ’n ooreenkoms met u te sluit sodat u kan heers oor alles wat u hart begeer.” Daarna het Dawid vir Abner ongehinderd laat gaan.

22. Kort nadat Abner ongehinderd daar weg is, kom Joab en Dawid se manskappe met baie buit terug van ’n rooftog.

23. Toe Joab hoor dat Abner die koning besoek het en dat hy ongedeerd daar weg is,

24. haas hy hom na die koning toe. “Wat het u nou gedoen?” vra hy. “Wat het u besiel om Abner te laat wegkom?

25. U weet tog dat Abner seun van Ner, net gekom het om u te mislei en op u doen en late te spioeneer!”

2 Samuel 3