7. Maar nou moet julle sterk en moedig wees, want julle koning Saul is dood. Neem kennis dat die inwoners van Juda my as hulle nuwe koning gekroon het.”
8. Maar Abner seun van Ner, die bevelvoerder van Saul se leër, het reeds met Saul se seun Is-Boset na Maganajim gegaan.
9. Daar het hy Is-Boset koning oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim, Benjamin en die res van Israel gemaak.
10. Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar regeer. Net Juda het hulle agter Dawid geskaar.
11. Dawid het Hebron sy hoofstad gemaak en van daar sewe en ’n half jaar oor Juda regeer.
12. Op ’n dag lei Abner die troepe van Is-Boset, seun van Saul, van Maganajim af teen Gibeon.
13. Joab, seun van Seruja, het met Dawid se troepe uit Hebron getrek en Abner by die Gibeondam ontmoet. Die twee groepe het weerskante van die dam stelling ingeneem.
14. Toe maak Abner ’n voorstel aan Joab: “Kom, laat ’n paar van ons soldate ’n vertoning gee van man-teen-man-gevegte.”“Goed, laat hulle dit doen,” stem Joab in.