7. Dawid het ingestem en vir Tamar na Amnon se huis toe gestuur om vir hom kos voor te berei.
8. Toe Tamar by Amnon se huis kom, gaan sy in die kamer in waar hy gelê het. Sy het deeg geneem en dit voor sy oë geknie, hartvormige koeke gemaak en dit gebak.
9. Maar toe sy die pan voor hom neersit, het hy geweier om te eet. “Almal van julle moet hier uitgaan!” sê hy. Toe almal weg was,
10. vra hy vir Tamar: “Bring die kos hier na my toe dat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar neem toe die hartvormige koeke wat sy voorberei het en bring dit na haar broer Amnon se bed.
11. Maar net toe sy vir hom die kos wou voer, gryp hy haar en eis: “Kom slaap by my, my suster.”
12. “Nee, my broer!” smeek sy. “Moenie my onteer nie! Jy weet mos dat so iets nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie dwase ding aanvang nie!
13. Waarheen sal ek met hierdie skande vlug? Jy sal soos ’n dwaas in Israel wees. Praat gerus met die koning hieroor. Hy sal toelaat dat jy met my trou.”
14. Maar Amnon wou nie luister nie. Omdat hy sterker was as sy, het hy haar oorrompel en verkrag.
15. Toe verander sy verliefdheid in haat. Sy haat was selfs groter as sy verliefdheid vir haar. “Staan op en loop!” skree hy vir haar.
16. “Nee!” sê sy. “Om my nou weg te jaag is ’n groter onreg as wat jy my reeds aangedoen het.”Maar Amnon wou nie na haar luister nie.
17. Hy roep toe sy slaaf en beveel hom: “Smyt hierdie vrou hier uit en sluit die deur agter haar!”
18. Die slaaf het haar toe uitgeneem en die deur gesluit. Sy het ’n lang mantel gedra volgens die destydse gebruik vir die koning se dogters wat nog maagde was.
19. Tamar het stof op haar kop gegooi, die mantel stukkend geskeur, haar hand op haar kop gesit en hardop gehuil so ver sy gegaan het.
20. Haar broer Absalom het haar gevra: “Was Amnon by jou? Wees nou eers stil, my suster. Aangesien hy jou broer is, moet jy jou nie daaroor ontstel nie.” Daarna het Tamar as ’n eensame vrou in Absalom se huis gaan woon.
21. Toe koning Dawid hiervan hoor, was hy baie kwaad.