17. Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.
18. Die troon het ses trappe gehad en die voetbank van goud was aan die troon vasgeheg. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu wat langsaan staan.
19. Twaalf beelde van leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.
20. Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.
21. Die koning het ’n handelsvloot gehad wat beman is met matrose wat Hiram gestuur het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.
22. Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid.
23. Al die konings van die aarde wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het.
24. Jaar na jaar het elkeen wat hom besoek het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile gebring.
25. Salomo het 4 000 stalle vir perde en strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwadorpe aangehou en ook by die koning in Jerusalem.
26. Hy het oor al die konings geheers, vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en die grens van Egipte.
27. Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en seders so algemeen soos wildevyebome in die Laeveld.
28. Sy perde het hy uit Egipte en baie ander lande ingevoer.
29. Die res van die gebeurtenisse tydens Salomo se bewind, van die begin tot die einde, is opgeteken in Die vertellings van die profeet Natan, in Die profesieë van Agija van Silo, en in Die visioene van die siener Jedi oor Jerobeam seun van Nebat.