1. Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien hoor, het sy Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het gekom met ’n groot gevolg en kamele gelaai met speserye, baie goud en kosbare juwele. Toe sy Salomo ontmoet, het hulle oor alles gepraat wat sy op die hart gehad het.
2. Salomo het al haar vrae beantwoord en daar was niks vir hom te moeilik om vir haar te verduidelik nie.
3. Toe die koningin van Skeba besef hoe wys Salomo was, en toe sy die tempel sien wat hy gebou het,
4. was sy uit die veld geslaan. Sy was ook verbaas oor die kos op sy tafels, die bediening en kleredrag van sy amptenare, die skinkers en hulle kleredrag, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het.
5. Sy sê toe vir Salomo: “Alles wat ek in my land van jou prestasies en wysheid gehoor het, is waar!
6. Ek kon dit nie glo totdat ek hier aangekom het en dit met my eie oë gesien het nie. Trouens, die helfte daarvan is my nie vertel nie. Jou wysheid is baie meer as wat aan my meegedeel is.
7. Hoe bevoorreg is jou mense! Wat ’n voorreg vir jou amptenare om dag na dag hier te wees om te luister na jou wysheid!
8. Mag die Here jou God geloof word! Hy verbly Hom in jou en het jou op die troon gesit om namens Hom te regeer. Dis omdat jou God vir Israel so liefhet en wil hê dat hierdie koninkryk vir altyd bestaan dat Hy jou koning gemaak het oor hulle sodat jy met reg en geregtigheid kan regeer.”
9. Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud en baie kosbare speserye, asook waardevolle juwele. Nooit vantevore was daar speserye van hierdie gehalte soos dié wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.
10. (Toe die bemanning van Hiram en Salomo goud uit Ofir gebring het, het hulle ook ryk vragte van jenewerhout en kosbare juwele saamgebring.
11. Die koning het die jenewerhout gebruik om trappe vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en ook om harpe en liere vir die musikante te maak. Daar was nooit vantevore sulke pragtige musiekinstrumente in Juda nie.)
12. Koning Salomo het vir die koningin van Skeba gegee wat sy ook al gevra het. Dit was geskenke van groter waarde as wat sy vir hom gebring het. Daarna het sy en haar volgelinge na hulle eie land toe vertrek.
13. Salomo se jaarlikse inkomste was omtrent 23 ton goud.
14. Dit het nie die addisionele inkomste ingesluit wat hy van reisigers en handelaars ontvang het nie. Al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs het ook goud en silwer aan Salomo betaal.
15. Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elkeen gebruik.