10. Teen die einde van die feesvierings het Salomo die mense huis toe gestuur, op die drie en twintigste dag van die sewende maand. Hulle was almal bly en vol vreugde omdat die Here so goed was vir Dawid, Salomo en sy volk Israel.
11. So het Salomo die tempel van die Here, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel.
12. Een nag het die Here aan Salomo verskyn en gesê: “Ek het jou gebed verhoor en het hierdie tempel vir Myself gekies as die plek waar daar offers vir My gebring moet word.
13. Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur.
14. Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak.
15. Ek sal ’n oog hou oor hierdie plek en luister na elke gebed wat hier opgestuur word,
16. want Ek het hierdie tempel gekies en dit afgesonder om vir altyd my woning te wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.
17. “Wat jou betref: As jy My volg soos jou pa Dawid, doen wat Ek beveel het en al my voorskrifte, gebooie en bepalings gehoorsaam,
18. sal Ek toesien dat niemand jou koninklike troon wegneem nie. Dit is dieselfde belofte wat Ek vir jou pa Dawid gegee het toe Ek gesê het: ‘Jy sal nooit sonder ’n opvolger wees wat oor Israel regeer nie.’
19. “Maar as julle My verlaat en ongehoorsaam is aan my gebooie en die voorskrifte wat Ek vir julle gegee het, en as julle ander gode dien en hulle aanbid,
20. dan sal Ek die volk Israel ontwortel uit hierdie land van My wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel verwerp wat Ek afgesonder het om my Naam te eer. Ek sal dit tot bespotting en minagting onder die volke maak.