2 Kronieke 5:4-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Toe al die leiers van Israel aangekom het, het die Leviete die ark opgetel

5. en saam met die tent van ontmoeting, asook al die heilige toebehore daarvan, gedra. Die Levitiese priesters het dit alles na die tempel toe gebring.

6. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel wat by hom bymekaargekom het, het skape en beeste voor die ark geoffer. Dit was so baie dat dit nie getel kon word nie.

7. Daarna het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gebring en dit onder die gerubs neergesit.

8. Die gerubs het hulle vlerke oor die plek van die ark gesprei en die ark met sy drahoute oordek.

9. Hierdie drahoute was so lank dat hulle punte vanaf die tempel se hoofingang, die heilige plek, gesien kon word, maar nie van buite af nie. Dit is tot vandag toe steeds daar.

10. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by die Horebberg daarin gesit het. Dit was toe die Here ’n verbond met sy volk Israel gesluit het ná hulle uit Egipte vertrek het.

11. Toe het die priesters die heiligdom verlaat. Al die priesters teenwoordig het hulleself gereinig, of hulle daardie dag aan diens was of nie.

2 Kronieke 5