2 Kronieke 30:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Moenie koppig wees soos julle voorouers nie, maar onderwerp julle aan die Here. Kom na sy tempel toe, die plek wat Hy vir altyd as heilig afgesonder het. Dien die Here julle God sodat sy toorn van julle afgewend kan word.

9. As julle na die Here toe terugkom, sal julle broers en julle kinders met medelye behandel word deur hulle wat hulle gevange geneem het en hulle sal hulle na hierdie land toe laat terugkom, want die Here julle God is genadig en Hy is julle goedgesind. As julle na Hom toe terugkom, sal Hy nie voortgaan om sy gesig van julle af weg te draai nie.

10. Die boodskappers het van dorp tot dorp deur die hele Efraim en Manasse tot so ver as Sebulon gegaan. Maar die mense het hulle uitgelag en hulle gespot.

11. Sommige uit Aser, Manasse en Sebulon het hulleself verootmoedig en na Jerusalem toe gegaan.

12. Die hand van die God was egter oor die mense van Juda. Hy het hulle ’n eenheidsgevoel gegee sodat hulle die bevele van die koning en sy amptenare as die woord van die Here gehoorsaam het.

13. Gevolglik het ’n groot skare in Jerusalem bymekaargekom om die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood in die tweede maand te vier.

14. Hulle het die heidense altare uit Jerusalem verwyder en die wierookaltare in die Kedronvallei gegooi.

15. Op die veertiende dag van die tweede maand het hulle die paaslam geslag. Die priesters en Leviete het toe skaam geword, hulleself gereinig en brandoffers na die tempel van die Here gebring.

16. Hulle het hulle plekke in die tempel ingeneem volgens die bepalings van Moses, die man van God. Die Leviete het die bloed vir die priesters gebring en hulle het dit op die altaar gesprinkel.

17. Omdat baie van die mense nie hulleself gereinig het nie, moes die Leviete die paaslammers slag vir hulle wat nie seremonieel rein was en nie hulle lammers self aan die Here kon wy nie.

18. Die meeste van hulle wat uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon gekom het, het hulleself nie gereinig nie. Hulle het die paaslam geëet al was dit strydig met wat voorgeskryf is. Maar koning Hiskia het vir hulle gebid en gesê: “Mag die Here, wat goed is, elkeen vergewe

19. wat besluit het om God die Here, die God van hulle voorouers, te dien selfs al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.”

20. Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk genees.

2 Kronieke 30