2 Kronieke 24:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Telkens wanneer die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Dan het die hofsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester die geld getel en die kis weer na die tempel toe teruggebring. Dit het dag na dag gebeur sodat ’n groot bedrag geld op dié wyse ingesamel is.

12. Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die Here gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die Here te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die Here.

13. Die manne in bevel van die opknapping het hard gewerk en geleidelik vordering gemaak. Hulle het die tempel van God volgens die oorspronklike planne gerestoureer en dit versterk.

14. Toe al die herstelwerk afgehandel was, het hulle die oorblywende bedrag geld teruggebring na die koning en na Jojada. Dit is gebruik om gereedskap vir die tempel van die Here te maak. Dit was werktuie vir die brandoffers, insluitend die bakke en ook goue en silwer gereedskap. So lank as wat Jojada die priester gelewe het, is die brandoffers voortdurend in die tempel van die Here gebring.

15. Jojada het tot ’n baie rype ouderdom geleef en het gesterf toe hy 130 jaar oud was.

16. Hy is begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het baie goeie dinge in Israel gedoen, vir God en sy tempel.

2 Kronieke 24