3. “Kom tog saam met ons!” vra een van hulle.“Goed, ek kom saam,” sê hy.
4. Hy het saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, begin hulle bome afkap.
5. Terwyl een van hulle besig was om ’n boom te kap, val sy byl in die water. “Ag, Meneer!” roep hy uit. “Dit is ’n geleende byl!”
6. “Waar het dit ingeval?” vra die man van God. Die man wys toe vir hom die plek. Elisa het ’n stok afgekap en dit in die water gegooi. Die byl het boontoe gekom en gedryf.
7. “Gryp dit,” sê Elisa vir hom. Die man het sy hand uitgesteek en dit gegryp.
8. Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.”
9. Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.”
10. Dan het die koning boodskappers na die plek gestuur waarvan die man van God gepraat het en die mense gewaarsku. Hulle was dus op hulle hoede. Dit het etlike kere gebeur.
11. Hieroor was die koning van Aram baie ontsteld. Hy roep toe sy offisiere en vra hulle: “Wie van julle is die verraaier? Wie is dit wat die koning van Israel oor my planne inlig?”
12. “Dis nie ons nie, o Koning,” antwoord een van die offisiere. “Elisa, die profeet in Israel, vertel alles aan die koning van Israel. Selfs wat u in u slaapkamer sê, is aan hom bekend!”
13. Die koning van Aram beveel hulle toe: “Gaan en stel vas waar Elisa is. Dan stuur ek troepe om hom te vang.”Hy kry toe berig: “Elisa is in Dotan.”