1. Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe hierdie boodskap aan die koning: “Dit is wat die Here sê: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie bly leef nie.”
2. Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai en tot die Here gebid:
3. “O Here, onthou tog hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly en om dit te doen wat vir U reg is.” Daarna het Hiskia in trane uitgebars en bitterlik gehuil.
4. Jesaja was skaars weg, toe sê die Here vir hom:
5. “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: ‘Dit is wat die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Oor drie dae sal jy uit die bed opstaan en na die tempel van die Here toe gaan.
6. Ek sal nog vyftien jaar by jou lewe voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal die stad beskerm om my ontwil en ter wille van my dienaar Dawid.’”
7. Toe sê Jesaja vir Hiskia se dienaars: “Gaan maak ’n pap van vye!” Hulle het dit gedoen, dit op die sweer gesit en Hiskia het daarna beter gevoel.