11. Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig.
12. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die Here hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die Here deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.
13. In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower.
14. Koning Hiskia stuur toe ’n boodskap aan die koning van Assirië in Lakis: “Ek het verkeerd gedoen. Ek sal betaal watter bedrag u eis, as u maar net die aanval sal staak.” Die koning van Assirië eis toe ’n boete van meer as tien ton silwer en omtrent een ton goud van koning Hiskia van Juda.
15. Hy het al die silwer wat in die tempel van die Here en in die skatkamers van die paleis te vind was, gebruik om die boete te betaal.