2 Konings 13:16-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Elisa sê vir hom: “Sit jou hande op die boog.” Hy het so gemaak. Elisa sit toe sy eie hande oor die koning s’n.

17. Daarna beveel hy: “Maak die venster na die ooste toe oop.” Hy het so gemaak. Elisa sê vir hom: “Skiet!” Hy het so gemaak.Toe kondig Elisa aan: “Die pyl van die Here se oorwinning, ’n pyl van oorwinning oor Aram. Jy sal die Arameërs by Afek heeltemal verslaan.

18. Vat nou die ander pyle en slaan teen die grond.” Die koning het hulle opgetel, drie keer geslaan en toe opgehou.

19. Maar die man van God het baie kwaad geword vir hom. “Jy moes vyf of ses keer geslaan het!” roep hy uit. “Dan sou jy Aram verslaan en heeltemal verwoes het. Nou sal jy net drie keer oor Aram seëvier.”

20. Daarna het Elisa gesterf en hulle het hom begrawe.Moabitiese bendes het elke lente die land binnegeval.

21. Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle so ’n bende plunderaars opmerk. Hulle gooi toe die liggaam gou in Elisa se graf. Maar net toe die liggaam Elisa se bene raak, het die dooie man herlewe en regop gestaan!

2 Konings 13