1 Samuel 24:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Vandag kan u met u eie oë sien dat dit nie waar is nie. Want die Here het u daar agter in die grot in my mag gegee. Sommige van my manskappe het gesê dat ek u moet doodmaak. Maar ek het u lewe gespaar, want ek het gedink: ‘Ek sal hom nooit leed aandoen nie, want hy is die gesalfde van die Here.’

12. Kyk, Pa, wat het ek in my hand. Dis ’n stuk van u mantel! Ek het dit afgesny, maar ek het u nie doodgemaak nie. Dit bewys dat ek nie ’n kwaaddoener of ’n opstandeling is nie. Ek het nie teen u gesondig nie. Tog agtervolg u my om my dood te maak.

13. Die Here sal tussen ons twee oordeel. Die Here sal wraak neem oor wat u aan my doen. Ek self sal u egter nooit kwaad aandoen nie.

14. Dis soos die spreekwoord lui: ‘Van slegte mense kom slegte dinge.’“Ek self, egter, sal u nooit kwaad aandoen nie.

15. Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie is dit wat u agtervolg? ’n Dooie hond? Een enkele vlooi?

16. Die Here is die regter en sal tussen ons uitspraak lewer. Hy sal my saak behartig en my uit u mag bevry!”

17. Nadat Dawid dit gesê het, antwoord Saul: “Is dit regtig jy, my seun Dawid?” Hy het begin huil

18. en sê vir Dawid: “Jy is ’n beter man as ek, want jy het aan my goedgedoen, maar ek wou dit met kwaad vergeld.

19. Deur my nie dood te maak nie het jy vandag bewys dat jy goed wil doen aan my. Die Here het my in jou mag oorgelewer, maar jy het my nie doodgemaak nie.

20. “Wie sal toelaat dat sy vyand wegkom terwyl hy hom in sy mag het? Mag die Here jou beloon omdat jy vandag vir my goed was.

21. Ek weet dat jy sekerlik koning sal word en dat die koningskap in Israel onder jou leiding gevestig sal word.

1 Samuel 24