1 Samuel 22:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “Maar, Koning,” verweer Agimelek hom, “daar is tog niemand onder u amptenare wat so betroubaar is as u skoonseun Dawid nie. Hy is dan die aanvoerder van u lyfwag en ’n geëerde lid van u huishouding!

15. Dis tog nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Moet asseblief nie my en my familie hiervan beskuldig nie, want ek het absoluut niks geweet van ’n komplot teen u nie.”

16. “Jy sal sekerlik sterf, Agimelek, jy en jou hele familie!” roep die koning uit.

17. Toe beveel hy die lyfwagte rondom hom: “Maak die priesters van die Here dood, want hulle is kop in een mus met Dawid. Hulle het geweet dat hy van my af vlug, maar het my nie laat weet nie!” Maar Saul se wagte het geweier om die priesters van die Here dood te maak.

18. Toe beveel die koning vir Doëg: “Val die priesters aan!” Doëg het die priesters aangeval en 85 mans wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.

19. Daarna is ook Nob, die priesterdorp, aangeval en al die mans, vroue, kinders en babas, asook al die grootvee, donkies en kleinvee afgemaai.

20. Net Abjatar, een van die seuns van Agimelek en kleinseun van Agitub, het ontkom en na Dawid toe gevlug.

21. Toe hy vir Dawid vertel dat Saul al die priesters van die Here doodgemaak het,

22. roep Dawid uit: “Ek het so gedink! Toe ek dié dag vir Doëg die Edomiet daar sien, het ek geweet hy sou alles vir Saul vertel. Ek het die dood van jou pa se hele familie veroorsaak.

23. Bly hier by my en moenie bang wees nie. Die een wat jou wil doodmaak, wil my ook doodmaak. By my is jy egter veilig.”

1 Samuel 22